History of Trichard Woning Middelburg

Theo Ligthelm 2021

Louis Tregardt (1783-1838) (let op spelling van sy van, later gespel “Trichard” (Geni, n.d.)) begin in 1834 sy plase in die Oos-Rietrivier verkoop en begin geleidelik na die binneland beweeg. Hy sluit hom in Gealekaland by sy oudste seun Carolus (Carel) Johannes Tregardt (1811-1901) toe 23 jaar oud, aan wat reeds vroeër na die gebied getrek het. Carolus Johannes Tregardt is op 3 September 1811 op Boschberg,, tans Somerset-Oos (Schalkwyk, 2020) of Bruintjieshoogte (FAK, n.d.), gebore (Schalkwyk, 2020). Hy tree op as wamaker en ambagsman van die trek geselskap

In September 1835 beweeg die Tregardt geselskap van ongeveer sewe gesinne na die binneland oor die Oranje Rivier by die huidige Aliwal-Noord (Pretorius, 2012). Die geselskap beweeg wes van die huidige Middelburg verby, tot aan die Soutpansberg. Drie van Louis Tregardt se jonger kinders sterf hier (Af.wikipedia, 2019)

In Augustus 1837 beweeg die geselskap, insluitend Carolus, na Lorenzo Marques. Hier sterf Louis se vrou Martha Elizabeth Susanna (Bouwer) (Geni, n.d.) en Carolus se vrou Hendrina Catharina Trichard (Bouwer) (Geni, n.d.) en Carolus se kind Louis Gustavus Gustaf Triegaardt [alternatiewe spelling] (Geni, n.d.) van Malaria (Pretorius, 2012) (Schalkwyk, 2020). Louis Tregardt self sterf op 25 Oktober 1838 ook in Lorenzo Marques (Geni, n.d.).

Carolus vertrek voor sy vader se dood, noordwaarts met ‘n Portuguese kusvaarder vir verkenning vir ‘n moontlike vestiging. Hy bereik Inhambane, Sofala en Kilimane. By elke hawe onderneem hy handelstogte na die binneland. Hy verken die area om die huidige Harare, wat ‘n gunstige indruk op hom maak. Alhoewel beweer word dat hy die Zimbabwe ruïnes bereik het bestaan geen bewys daarvoor nie. Die bewering dat hy die Victoria Waterval bereik het voor Livingstone is onwaarskynlik agv tydsduur. Hy het egter wel die Cabora Bassa stroomversnellings bereik (Af.wikipedia, 2019). Hy reis verder tot by die groot mere area, Zanzibar, en al langs die Abessynse kus op tot by Kaap Guardafui en Jibuti aan die Rooi See (FAK, n.d.).

In Julie 1839 (Af.wikipedia, 2019) keer hy terug na Lorenzo Marques. In die tweede helfte van Oktober 1839 het hy ‘n reis na Madagaskar onderneem en daarna ‘n tweede reis langs die Oos-Kus van Afrika (Af.wikipedia, 2019). In 1840 (FAK, n.d.) keer hy terug na Lorenzo Marques en reis suidwaarts tot in eSwatini. Daar word beweer dat hy ‘n ooggetuie was van die moord op die verslane Dingaan (FAK, n.d.). Hy reis te perd verder totdat hy in Mei 1840 by die kamp van Willem Landman in Natal aankom. (FAK, n.d.)

In 1840 is hy op 29 jarige ouderdom in Pietermaritzburg weer getroud (Bloedrivier Erfenisterrein, n.d.) met Zacharia Geertruida Erasmus, dogter van Kmdt Stephanus Petrus Erasmus. Hy neem in Mei 1842 deel aan die slag van Congella teen die Britte, wat lei tot die oorgawe van die Volksraad op 5 Julie 1842 (Pretorius, 2012). Sy oudste seun, uit die tweede huwelik, Louis is in 1842 in Natal gebore.

Hy verlaat in 1845 Natal en gaan woon in Ohrigstad (FAK, n.d.) (Potchefstroom en Standerton (NG Gemeente Middelburg, 1967)). Uit die huwelik is 4 seuns en 4 dogters gebore (Geni, n.d.). [Ondermeer Stephanus Petrus Erasmus Trichard op January 23, 1847, wat Kommandant van die ZAR Staatsartillerie sou word.]

In 1896 (1) verhuis Carolus en sy eggenote Zacharia na Middelburg (NG Gemeente Middelburg, 1967) en laat bou ‘n woning oorkant die kerk (Erf 305 die huidige “Trichard huis”) (Steynberg, 2021) (Trichard, 2021)

Hy verhuis waarskynlik na Middelburg omrede sy kinders hier woon. Die oudste oorlewende seun Louis is in 1900 gelys as die eienaar van die plaas Bankplaas buite Middelburg (Intellegence Department, 1900) terwyl Stephanus PE Trichard reeds in 1894 twee erwe in Middelburg koop (Akte 952/1894). In 1895 op 84 jarige ouderdom reis Carolus, waarskynlik vanaf Middelburg, langs die voltooide spoorweg na Delagoabaai, en besoek die klein kerkhof van die Trichard-trek. (FAK, n.d.)

Met die inname van Middelburg op 27 Julie 1900 (Amery, 1900) is verskeie huise in die dorp deur die Britse gesag gekommandeer as wonings vir offisiere (Burger, 1936). Geen rekord kan egter gevind word dat Carolus se woning gekommandeer is nie. Dit is dus waarskynlik dat Carolus (toe 89 jaar) en sy eggenote Zacharia Geertruida (toe 77 jaar) in die woning bly woon het gedurende die Britse besetting (2).

Carolus Trichard sterf op 25 April 1901 waarskynlik (3) in die huis en word in Middelburg se Ou Begraafplaas begrawe. Sy eggenote Zacharia Geertruida sterf 29 dae later op 20 Mei 1901 ook waarskynlik in die huis. Na hul dood is die huis op ‘n veiling verkoop.

Die huis word in 1962 die eiendom van Joyce Dorothy Wheeler (1919-2005) tot 1991. [Moontlik was dit voor dit die eiendom van haar vader William John Wheeler (1887-1964) (Grafskrif).

Die huis verwissel daarna in 1992 vinnig van eienaar van Joyce Wheeler na Barend Badenhorst and Ella Prinsloo tot ‘n beslote kooperasie Flamer cc in 1992, die huidige eienaar. (Property Information, 2021)

Die huis het oor ‘n periode dramaties verval, maar dit is gerestoureer as ‘n praktyk spreekkamer vir ‘n geneesheer.

Dank aan Juanita Venter en Yolandi Koelemans-van Rooyen wat gehelp het met insameling van inligting.

Bibliography

Af.wikipedia, 2019. Carolus Tregardt. [Aanlyn]
Available at: https://af.wikipedia.org/wiki/Carolus_Tregardt
[Toegang tot 20 Feb 2021].

Amery, L. S., 1900. Times History of the War in South Africa. London: Sampson Low Marston.

Bloedrivier Erfenisterrein, s.j. Carolus Johannes Tregardt. [Aanlyn]
Available at: https://m.facebook.com/BloedrivierBloodRiver445.39987/posts/2351401191791164
[Toegang tot 20 Feb 2021].

Burger, A. J. V., 1936. Worsteljare Herinneringe van Ds A.P. Burger. Kaapstad: Nasionale Pers.

Claassen, G. N., 1980. Van Nazareth tot Middelburg. Contree, Jan.pp. 5-10.

FAK, s.j. Afrikaner Geskiedenis. [Aanlyn]
Available at: https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/?p=20806
[Toegang tot 20 Feb 2021].

Geni, s.j. Carolus Johannes Trichardt. [Aanlyn]
Available at: https://www.geni.com/people/Carolus-Trichardt/6000000002437670350
[Toegang tot 20 Feb 2021].

Intelligence Department, 1900. List of Farms Middelburg District. Pretoria: Government Printing Works.

NG Gemeente Middelburg, 1967. Gedenkdoek Eeufees. Middelburg: NG Gemmente Middelburg.

Pretorius, F. (., 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg.

Property Information, 2021. Erf 305, s.l.: s.n.

Schalkwyk, L., 2020. Geskiedenis – Vandag in die verlede. [Aanlyn]
Available at: https://www.kraaluitgewers.co.za/3-september-1811-seun-van-die-voortrekkerleier-louis-tregardt-op-boschberg-gebore
[Toegang tot 20 Feb 2021].

Steynberg, M. 0., 2021. Trichard huis [Onderhoud] (25 Feb 2021).

Trichard, K. 0., 2021. Carolus Woning [Onderhoud] (6 Maart 2021).

(1) Alhoewel die dorpsplan van Middelburg in die NG Kerk gedenkboek (NG Gemeente Middelburg, 1967) die datum 1874 dra en die huis aandui, as die woning van Kol (sic) S. Trichard en K Trichard dateer die inskrywing op die kaart waarskynlik na die Anglo-Boereoorlog, aangesien dit die Weeshuis aandui wat eers na die Oorlog gestig is.

(2) Bewerings dat die Vredesonderhandelinge van 28 Februarie 1901 in die huis plaasgevind het is nie korrek nie. Die vredesonderhandelinge het in Highbury, die woning van Joseph Henry (Harry) Laver plaasgevind wat op daardie stadium Genl Lyttleton se hoofkwartier was. Geen verdrag is in die huis of in Middelburg onderteken nie.

(3) Dit was nie gebruiklik in die tyd dat bejaardes in hospitale opgeneem is on te sterf nie. Middelburg het ook slegs ‘n baie klein tidelike hospitaal vir burgerlikes gehad tydens die oorlog, so hulle sou nie daar opgeneem gewees het nie.

Figure 1: Carolus (Carel) Johannes Tregardt (1811-1901)

Figure 2: Zacharia Geertruida Trichard (Erasmus)

Figure 3: Trichard woning

Figure 4: Voordeur tot die huis